Kinders leer by poppe oor spekbome

 Leerders van tien laerskole in die Klein Karoo is sedert die begin van die skooljaar bekend gestel aan Spekkies, ‘n poppeteater wat aangebied word deur Paul en Marina Eilers.

Altesaam 761 leerders van laerskone in in om Oudtshoorn, Dysselsdorp en Calitzdorp en 34 onderwysers het die poppeteater gesien.
Laerskole wat tussen 25 Januarie en 12 Februarie besoek is, sluit Vanwyksdorp Primêr, Excelsior VGK Primêr en Kruisrivier-Wes Primêr in die Calitzdorp-omgewing, St Konrad Primêr in Dysselsdorp, Scheeperskraal Primêr, De Jager Primêr en Volmoed Primêr in Oudtshoorn se landelike gebied, en Laerskool Oudtshoorn-Noord, Laerskool van Rheede en Oudtshoorn Vaardigheidskool op Oudtshoorn in.

Volgens Marina en Paul Eilers, poppemeesters, het die sewe nimlike handpoppe naamlik Hasie Hoppeljan, Bella Bok, Eseltjie Langoor, Spof die pofadder, Sproetjies die tarentaal, Doempie die padda en Oompie Dopman die skilpad die kleingoed se harte gesteel.
Die karakters vertel van die spekboom se wonderlike eienskappe soos die blare se vermoë on koolstofdioksied uit die lug te haal en in die grond onder die boom te stoor sodat die boom en die plante rondom die boom beter groei.

Die tema pas aan by die gr. 4-leerplan, en die volkleur Spekkies-gids en werksopdrag wat aan die leerders uitgedeel word is belangrike hulpmiddels vir die onderwysers. Die poppekas duur sowat ‘n halfuur.

“Die bondige boodskap wat deur die verskillende karakters vertel word en die lewendige musiek hou die leerders se aandag,” sê Marina Eilers.
Die poppeteater-vertoning is deur die Europese Unie gefinansier en vorm deel van die Werk-vir-Koolstof-projek (Jobs 4 Carbon). Die projek is ‘n inisiatief van die Gouritz Groepbiosfeerreservaat (GCBR) wat ‘n groot deel van die Klein Karoo insluit. “Die doel van die projek is om die landskap te help herstel,” sê Wendy Crane, wat die projek saam met dr. Steve du Toit van WESSA bestuur.

“Ons wil mense bewus maak van die voordele van ‘n gesonde ekosisteem en veral die spekboom se waarde om die uitwerking van klimaatsverandering te mitigeer en die eksosisteem te restoureer.

Die doel van die GCBR is om in samewerking met bewaringsinstansies en privaat grondeienaars die omgewing te herstel en te bewaar deur middel van en ter wille van volhoubare benutting waaruit die natuur en die gemeenskappe voordeel trek.

“Die GCBR fokus op die jeug, wat die leiers van die toekoms is. Hulle het ‘n groot invloed op hul ouers, wat hulle tot verantwoording moet roep vir jul passiwiteit ten opsigte van die verval van die natuurlike omgewing.

“Ons het uit die staanspoor besef ons kan nie net op volwassenes fokus nie. Ons wil die boodskap van die projek ook aan die kinders oordra en op ‘n speelse wyse die werklike probleme wat ons in die gesig staar uitlig. Die poppeteater wat Marina en Paul ontwerp het, dra die boodskap puik oor.”

Tisha Steyn
Oudtshoorn Courant
26 Feb 2016

comments powered by Disqus

follow us

Information

GCBR Newsletter


Twitter