Njala se voedingsekologie

 Njalas het die afgelope paar jaar in die kollig gekom nadat besonder hoë pryse vir ‘n paar bulle op veilings behaal is.

So ‘n njalabul het R1miljoen behaal op die eerste produksieveiling by Lasarus Boerdery, Albertinia in die Suid-Kaap in Maart vanjaar.

 

Die hoogste prys ooit was R1.65 miljoen in 2013 op ‘n veiling in Vaalwater; die vorige rekordprys in dieselfde jaar was R83 000 by ‘n veiling by Sun City. Vanselfsprekend ontlok hoë pryse toenemende belangstelling in njalas.

Die njala, wat ‘n beperkte natuurlike verspreidinggebied het is dus in baie gebiede ‘n ekstralimitale spesie wat spesiale sorg nodig het. Omdat die njala maklik aanpas, fenomenale pryse op veilings behaal en boonop gewild is onder toeriste wat deur die lens van ‘n kamer, die visier van ‘n geweer of die kromming van ‘n boog na ‘n njala kyk, hou dié lid van die Tragelaphus-genus groot finansiële voordeel in vir ‘n wildboer.

“Alhoewel baie bewaringsdoelwitte deur privaateienaars gehandhaaf word, is daar sekere praktyke, soos die inbring van spesies wat nie histories hier voorgekom het nie (extralimital), wat teenstrydig is met bewaringsbeginsels,” sê Ryno Pienaar, wat ‘n verhandeling vir sy meestersgraad aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se George-kampus op die voedingsgewoontes van njala by die Buffelsdrift Privaat Wildplaas buite Oudtshoorn gedoen het.

Voedingsekologie

Pienaar se navorsing oor die njala se voedingsekologie in die Suid-Kaap is belangrik omdat dit enigste studie oor njalas se verspreiding buite sy historiese gebied van voorkoms is naas Coates en Downs (2005) se studie van njalas in KwaZulu-Natal, waar dit ook ekstralimitaal saam met bosbokke voorkom. Tello en Van Gelder (1975) het ook navorsing gedoen oor die njala in sy natuurlike habitiat in Mosambiek.

In hierdie artikel word gekyk na die njala se algemene voedingsekologie in die Suider-Afrikastreek, met klem op sy voedingsekologie in die Suid-Kaap, waar die njala ‘n nie-historiese spesie is wat deur CapeNature verbied word.

CapeNature

“Daar is nog nie omvangryke navorsing gedoen oor die impak wat njalas het op die natuurlike en dikwels sensitiewe biome van die Suid-Kaap en veral Klein Karoo nie,” sê Jaco van Deventer van CapeNature.

Daar is ook nog nie bewys watter invloed njalas se voedingsgewoontes en voorkoms op ander Tragelaphus-spesies, soos die bosbok en koedoe wat natuurlik hier voorkom, het nie.

“Wanneer ‘n soogdier-herbivoor in ‘n nuwe sisteem ingebring word is die belangrikste oorweging nie of die area geskik is om die soogdier te onderhou nie, maar watter ekologiese uitwerking die ekstralimitale spesie op die inheemse plantegroei gaan hê,” meen Pienaar.

Volgens Pienaar maak dit nie saak hoe goed die njala oënskynlik aanpas nie, dit moet in gedagte gehou word dat die njala as ‘n ekstralimitale spesie nie natuurlik in daardie sisteem voorgekom en ontwikkel het nie, en dat hy waarskynlik weens voedingsdruk ‘n impak op die plantgemeenskappe sal hê, asook interspesiedruk op die herbivore wat natuurlik hier voorkom.

Pienaar se bevindings is dus nie net van toepassing op die Suid-Kaap nie, maar ook in al die ander dele van die land waar njalas gevestig of hervestig wil word.

Natuurlike verspreiding

Volgens Skinner en Smithers (1990) benut njalas benut oop grasvelde wat naby digte boskasies soos oewerbos geleë is (Skinner en Smithers, 1990). Wanneer die njalas gesteur word glip hulle die digte bos in. Waar hulle gereeld versteur word, sal hulle net snags in die ooptes wei.

Volgens J du P Bothma en Niel van Rooyen kom njalas natuurlik voor in ruie oewerbos in laagliggende rypvrye gebiede naasliggend aan oop savanneveld soos vloedvlaktes.

Die ratio tussen blaar- en grasinname is gewoonlik 20:80 in die droë seisoen, maar in die droë seisoen kan dit styg tot 10:90.

Die njala kom weens hierdie spesifieke habitatsbehoeftes in ‘n beperkte Deverspreidingsgebied in die suid-oostelike gebiede van Afrika voor in Limpopo, Swaziland, die laagliggende gebiede van noord- en suid-Zimbabwe, laagliggende gebiede van Mosambiek, die suidelike gebiede van Malawi, in die noordelike dele van KwaZulu-Natal en die noordoostelike gebiede van Mpumalanga.

Najalas is na verskeie privaatwildreservate en wildplase in Suid-Afrika versprei en kom tans ekstralimitaal voor in die Oos-Kaap, suidelike KwaZulu-Natal, Noordwes, die Noord-Kaap en die Suid-Kaap.

Algemene njala-dieet

Om die njala se voedingsekologie te verstaan is dit belangrik om kennis te dra van die rol wat dimorfisme speel. Dimorfisme dui op die verskille tussen manlike en vroulike diere. Die verskille is of die oorsaak of die gevolg van aanpassing ter wille van voortplanting en voortbestaan van die spesie, en het ‘n invloed op die bul en ooi se voorkeurhabitat en voedingsvoorkeure.

Die njala is ‘n mediumgrootte, herkouende hoefdier en ‘n gemengde vreter wat blare, bessies en peule sowel as nuwe gras wat na ‘n brand of reën uitloop benut. Hulle kou ook soms aan ou bene wat in die veld rondlê ter wille van spoorelement-aanvulling, maar die Klein Karoo het klaarblyklik nie so ‘n tekort nie!

Die bulle en ooie verskil aansienlik van mekaar in grootte (bul se skouerhoogte is 1.1m, massa 110kg, ooi se skouerhoogte is 0.9m, massa 65kg), voorkoms (kleur en streeppatroon op die lyf) en die teenwoordigheid van gedraaide of spiraalhorings – wat tipies is van die Tragelaphus-genus – by slegs die manlike diere.

Die verskil in voedingsgewoontes kan toegeskryf word aan die verskil in liggaamsgrootte, energiebehoeftes en elkeen se rol in voortplanting.

Manlike diere kom in gebiede voor waar hulle groter volumes biomassa inneem, teryl ooie hou waar hulle plante met ‘n hoër voedingswaarde kan kies. Manlike en vroulike dier wei egter heerlik saam aan jong groen gras op oop gebiede.

Voorkeurvoeding

Njalas op KwaZulu-Natal se grasvlaktes is hoofsaaklik blaarvreters wat net gras vreet in die nat seisoen wanneer jong gras uitloop; dieselfde geld in Mpumalanga en Mosambiek.

Volgens Jonathan Kingdon en Skinner en Chimimba vreet die njala by voorkeur die blare, takkies, bessies en peule van die Acacia, insluitend A. Xanthophloea (koorsboom), Salvadora persica (mosterdboom), Ziziphus mucronata (blinkblaar-wag-‘n-bietjie), Strychnos-spesies (botterklapper) en Spirostachys africana (tambotie) en Thilachium africanum (komkommerbos). Njalas eet ook die blomme en vrugte sowel as die bas van (Adansonia digitata) kremetartbome wat deur olifante afgestroop is.

J du P Bothma en N van Rooyen sluit die sekelbos (Dichrostachys cinerea), rooi-ivoor (Berchemia zeyheri), maroela (Sclerocarya birrea) en LM-gras (Dactyloctenium australe) in.

Sommige plantspesies word net in die somer benut, terwyl ander weer voorkeur in die winter geniet. Wanneer dit gereën het lok vars groen gras (hoofsaaklik dicotyledon) die njalas na oper gebiede; in KwaZulu-Natal is bevind dat njalas op die kort, soet gras (Setaria chevalieri) op die oewers van strandmere wei.

In Mpumalanga is bevind dat njalas meer gras in die reënseisoen vreet. Die belangrikste grasspesies wat hier benut word sluit in Digiteria eriantha, Panicum coloratum, P. maximum en Urochloa mosambicensis. Die belangrikste houtagtige plante in Mpumalanga sluit in Acacia nigrescens (knoppiesdoring), Combretum hereroense (rooiboswilg) en Zizuphus mucronata (blinkblaar-wag-‘n-bietjie) heel jaar lank, en Grewia flavescens (skurweblaarrosyntjie), Dalbergia malanoxylon (ebbehout), Securinega virosa (witbessiebos) en Spirostachys africana (tambotie) in die lente voordat die gras uitloop.

Njalas is ook opgemerk in KwaZulu-Natal waar hulle aan digte stande uitheemse indringerspesies soos Chromolaena odorata (parafienbos), Lantana camara (gewone lantana) en Solanum mauritianum (luisboom of grootbitterappel) vreet. Dit is natuurlik nie aan te beveel nie!

Buffelsdrift-studie

Omdat njalas se voedingsgewoontes in die Albany-Ruigtebioom, oftewel Mosaïek-ruigtebioom in die Klein Karoo nog nooit nagevors is nie, is Pienaar se navorsing van groot belang vir wildboere wat moontlik hier met njalas wil boer indien CapeNature die verbod verslap.

Die voorkoms van njala in die Albany-ruigtebioom is nog nooit voorheen bestudeer nie. Die doel van die navorsing was om vas te stel hoe die njala se voeding in die verskillende seisoene wissel en watter rol diformisme op hul dieetsamestelling, dieetvoorkeure en habitatbenutting het. Buffelsdrift is geleë in Ariede Mosaïek-ruigte in die westelike deel van die Albany-ruigtebioom.

In Buffelsdrift was dit vir Pienaar moontlik om die relatiewe mak njalas vir lang tye van naby dop te hou ten einde vas te stel watter plante hulle vreet en hoe lank hulle by ‘n plant vertoef.

Die njalas by Buffelsdrift is ook hoofsaaklik blaarvreters (87.8%) en het min gras (12.2%). Slegs ses plantspesies het meer as 5% van hul jaarlikse dieet uitgemaak, waarvan net drie spesies meer as 10% uitgemaak het, naamlik struikgewasse insluitend Acacia Karroo (soetdoring), Pappea capensis (doppruim) en Grewia robusta (Karoo-kruisbessie), gevolg deur struikvorm van Portulacaria afra (spekboom), dwergstruik Zygophyllum lichtensteinianum (vaalspekbossie), en die gras Cynodon dactylon (kweekgras).

Daar was ‘n duidelike verskuiwing tussen gunsteling plantspesies in die nat seisoen (winter en lente) en die droë seisoen (somer). Cynodon dactylon (kweekgras) and Erharta calycina (rooigras)het voorkeur geniet in die winter, terwyl P. capensis (doppruim) , P. afra (spekboom) en dwergstruike soos Limeum aethiopicum (koggelmandervoetkaroo) en Z. lichtensteinianum (vaalspekbossie) in die lente en somer voorkeur geniet het.

Njalabulle en ooie se weipatrone het verskil ten opsigte van plantvorm, spesie en habitat-skaal. Die bulle het meer struike verkies, terwyl die ooie op dwergstruike gekonsentreer het. Die bulle het meer op die doppruim en spekboom gefokus, terwyl die ooie op koggelmandervoetkaroo en vaalspekbossie gewei het. Die plantspesie-beskikbaarheid het nogal veskil tussen die geslagte wat daarop dui dat die bulle en ooie langs verskillende roetes wei. Die verskille in voedingstrategie blyk verband te hou met die plante wat voldoen aan die voedingsvereistes van die geslagte.

By Buffelsdrift kom die njalas saam met koedoes en elande voor waar hulle in verskillende gebiede wei waar plantegroei geskik is vir hul onderskeie liggaams- en rumengrootte.

Kennis oor herbivore se voedingsekologie is noodsaaklik vir doeltreffende wildplaasbestuur sodat:

  • Herbivore selektief gevestig kan word na aanleiding van die voedingsbron;
  • Vasgestel kan word hoeveel herbivore volgens die drakarag aangehou kan word;
  • Die uitkoms van moontlike oorbenutting deur verskillende diere vas te stel; en
  • Om vas te stel watter ekstralimitale soogdier-herbivore op die spesifieke weiding sal aard.

Daar is bevind dat die voorkeurvoeding nie noodwendig die belangrikste voedingspesies is nie. Dit is belangrik om daarop te let dat druk op voorkeurspesies daartoe kan lei dat die plante uitsterf, veral in kleiner gebiede waar die druk op plante groter is weens die groeiende herbivoorgetalle.

‘n Analise van hoe wild die habitat benut is een van die belangrikste aspekte van natuurlewebestuur. Bestuur van die ekologie van wildbevolkings binne ‘n vasgestelde gebied sonder dat die habitat of die diere skade ly berus in ‘n groot mate op deeglike begrip van die diere se habitatbehoeftes, -benutting en potensiële interspesie mededinging.

Habitatseleksie is die proses waar herbivore in ‘n gebied voorkom en areas benut waar hulle die noodsaaklike voedingsbronne vir hul oorlewing vind.

Habitatseleksie berus op:

  • die verspreiding en beskikbaarheid van water;
  • die voorkoms van interspesie kompetisie;
  • die verspreiding en beskikbaarheid asook kwaliteit en kwantiteit van weiding;
  • roofdiere; en
  • die verspreiding en beskikbaarheid van skuiling. Die beskikbaarheid van kos is een van die belangrikste faktore in groter herbivoor-seleksie van habitat.

Water

Njalas kan maande lank sonder water klaarkom, maar waar genoeg water beskikbaar is, suip hulle ten minste een maal per dag in die droë seisoen, en minder dikwels in die nat seisoen wanneer hulle genoeg vog uit die blare bekom. J du P Bothma en N van Rooyen meen weer die njala is afhanklik van water. In die winter wanneer die njala hoofsaaklik ‘n blaarvreter is, het hy ten minste 3.5l water per dag nodig.

Dimorfisme

Die voorkoms van dimorfisme in groot soogdier-herbivoorspesies word hoofsaaklik toegeskryf aan voortplantingseleksie- en paring-strategieë. Die manlike diere belê minder energie in voortplanting as die vroulike diere wat dragtig raak en lammers soog. Maar dit is ook al opgemerk dat indien manlike diere in rare gevalle tot die dood toe veg die oorwinnaar letterlik te “moeg” is om te paar.

Omdat die groter njalabul ‘n groter rumen het en voedsel stadiger verteer as die kleiner ooi, moet hy groter volumes vreet. Die ooi, darenteen, het meer energie en dus voeding met ‘n hoër voedingswaarde nodig wanneer sy dragtig is of soog. Njalas lam heeljaar deur, met ‘n redelike piek aan die begin van die somer (Augustus tot Desember) en dan weer ‘n geringer piek in Mei.

Manlike diere bereik puberteit op 12 maande en die velkleur verander van rooibruin tot die grys van volwasse diere tussen 18 en 24 maande. Die bul is egter eers seksueel volwasse op sowat vyf jaar. Paring geskied wanneer die ooie in oestrus gaan.

Vroulike diere is op 14 maande of dalk vroeër seksueel volwasse. Vrugbaarhid piek tussen drie en 14 jaar . Draagtyd is sowat 220 dae en geboortemassa van die lam is gemiddeld tussen 4.2 en 5.5kg. Die ooi lam in digte bos, waar die lam tot 18 dae lank wegkruip voordat hy saam met die ooie begin wei. Die lam word op sowat sewe maande gespeen.

Njala nie geskik vir Suid-Kaap

Die njala, wat nie natuurlik in die Suid-Kaap voorkom nie, is volgens Pienaar, CapeNature en Jan en Anne Lise Vlok nie ‘n geskikte nie-historiese spesie om in die Ariede Mosaïek-ruigteveld van die Suid-Kaap in te bring nie: eerstens kan die njala kompetisie bied vir die plaaslike sensitiewe spesies soos die grysduiker (Sylvacapra grimmia), die eland (Taurotrachus oryx) en die koedoe.

Die sensitiewe bioom word maklik verniel deur landbou en onvolhoubare wildboerderypraktyke. Beweiding deur herbivore kan die verspreiding en voorkoms van plante en mededingende interaksie tussen die plante ernstig beinvloed.

Verskillende herbivore het verskillende voedingsvoorkeure en beïnvloed dus verskillende plantspesies. Hulle het ook verskillende voedingstyle en het dus ‘n invloed op verskillende dele van die plant.

Waar baie blaarvretende hoefdiere voorkom, lê dit die vorming van saailinge aan bande en weidingsdruk vertraag nuwe groei. Oorbenutting van die blaarkomponent verander die samestelling van houtagtige spesies, wat dikwels daartoe lei dat onsmaaklik en oneetbare plante (soos doringagtige struike) die veld inneem.

‘n Groot aantal mediumgrootte blaarvreters het ook ‘n invloed op die samestelling van houtagtige plante en die gemeenskapsdinamiek van savanne-ekosisteme. Die Albany-ruigtebioom beskik oor ‘n groot verskeidenheid endemiese plante en die inbring van nie-historiese spesies kan die biodiversiteit en die funksionering van die ekosisteem beïnvloed.

Nie-historiese wild?

Herbivore kan ‘n negatiewe invloed op plantegroei hê wanneer hulle in gebiede ingebring word waar hulle nie histories voorgekom het nie. Hierdie is moontlike gevolge:

  • Potensiële kompetisie met inheemse herbivore weens beweiding wat daartoe lei dat die habitat verniel raak;
  • Verlies aan plantspesies en ‘n afname in plant-biomassa, veral met kleiner, endemiese sukkulente en geofiete;
  • Introduksie van nuwe patogene en parasiete; en
  • Kruisteling met inheemse hoefdierspesies.

Die negatiewe invloede van ekstralimitale diere moenie ligtelik opgeneem of geïgnoreer word nie, soos navorsing bewys:

  • Interspesiekompetisie kom voor tussen die bosbok en njala in KwaZulu-Natal waar die njala ekstralimital is;
  • Kameelperde (Giraffa camelopardalis) het skade aangerig aan die aantal en samestelling van bome in KwaZulu-Natal waar die kameelperd ekstralimitaal is;
  • Blouwildebeeste (Connochaetes taurinus) en swartwildebeeste ( gnou) het uitgebaster waar een van die twee spesies ekstralimitaal is;
  • Waar die springbok (Antidorcas marsupialis) ekstralimitaal voorkom het dit longwurm (Brondchonema magna) ingebring in gebiede waar die bontebok (Damaliscus pygargus pygargus) natuurlik voorkom. Die bontebokke is besmet en het gevrek.

 Taksonomie

Alhoewel die njala eers in 1849 wetenskaplik omskryf is deur Gray, is die njala (afgelei van die Zoeloe-woord inyala) vir die eerste keer onder Europese naturaliste se aandag gebring deur Douglas Angas, na wie die wetenskaplike naam Tragelaphus angasi verwys.

Dié medium-grootte antiloop het, soos die ander spesies in die genus spiraalvormige horings. Die njala het ook kenmerkende vertikale wit strepe op die lyf en die bul is aansienlik groter as die ooi, wat horingloos is.

Ander Tragelaphus-spesies sluit onder meer die bosbok (T. scriptus), waterkoedoe of sitatunga (T. spekii), koedoe (T. strepiceros) en die bongo (T. eurycerus) in.

Bronne:

Bothma, J du P en N van Rooyen: Intensive Wildlife Producion in Southern Africa, 2014

Bothma, J du P: Game Ranch Management, Vierde Druk, 2002

Kingdon, Jonathan: The Kingdon Field Guide to African Mammals, 1997

Pienaar, Ryno C: The Feeding Ecology of Extralimital Nyala (Tragelaphus angasii) in the Arid Mosaic Thicket of the Southern Cape, A dissertation presented for the Degree of Masters of Technology in the Nature Conservation Programme, George Campus, Nelson Mandela Metropolitan University, December 2013 (Pienaar se bronne is hierin vervat)

Skinner, John D & Chimimba, Christian T: The Mammals of the Southern African Subregion, 2005

Skinner D and Smithers R: The Mammals of the Southern African Subregion, 1990

 Artikel deur: Tisha Steyn

“Wild & Jag – Augustus 2015”

comments powered by Disqus
 

follow us

Information

GCBR Newsletter


Twitter