Reservaat beleef jaar van hoogtepunte

Die Gouritz-biosfeerreservaat (GCBR – Gouritz Cluster Biosphere Reserve) het die afgelope jaar groot vordering gemaak. Die vordering is tydens die GCBR se algemene jaarvergadering op Dinsdag 25 Augustus by die Oudtshoorn-navorsingsplaas uitgelig.

Een van die belangrikste gebeure was UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation) se erkenning van die GCBR as ‘n UNESCO Biosfeerreservaat, een van agt in Suid-Afrika en een van 650 wêreldwyd. “Dit was ‘n lang pad wat die afgelope agt jaar gestap is,” het voorsitter Willem Botha gesê.

Nog ‘n belangrike mylpaal was die onderneming van ‘n grondeienaar van Van Wyksdorp om een van vyf plase aan die GCBR te skenk. Daar word ook gekyk na die aankoop van die ander vier plase.

Daar is ook goeie vordering gemaak met die Jobs for Carbon (J4C) projek by Van Wyksdorp, waar 60 voorheen werklose mense uit die arm gemeenskap nou werk en ‘n inkomste het. Die projek word deur die Europese Unie en die department van omgewingsake gefinansier.

“Nou het ons kos op die tafel en ons kinders is op skool,” het Katrina Opperman, van Van Wyksdorp en ‘n assistent-toesighouer van die projek, gesê. Volgens haar is daar ook minder drankmisbruik, want mense wat andersins by kantiene sou gaan sit en drink, gaan nou eerder werk. “Dit is vir elkeen lekker om op te staan en te gaan werk.”

Die projek het ook reeds internasionale kool-stofkrediete verdien. Die Cambridge Universiteit in Engeland het onderneem om oor die volg

ende drie jaar sowat £3000 per jaar te betaal vir sekwestrasie van die koolstofvoetspoor van hul jaarlikse internasionale simposium. Die geld sal aangewend word om die Jobs for Carbon-projek in die rigting van Calitzdorp uit te brei.

Ander finansiering is van die Table Mountain Fund, WWF-SA, die munisipaliteite van Hessequa en Mosselbaai, en die Wes-Kaapse regering ontvang.

Jan Vlok van Regalis Environmental Services het uitgelig dat aansienlike vordering gemaak is met die uitbreiding van die GCBR-gebied sedert die eerste aanvanklike kartering van die gebied.

Met Cape Nature se aankoop van die plaas Grand Canyon langs die Anysberg Natuurreservaat, loop die GCBR se gebied nou aaneenlopend vanaf die Anysberg tot in die Baviaanskloof. “Dit skep ‘n korridor waarlangs die luiperd, die enigste oorlewende groot roofdier in die gebied, kan beweeg,” het Vlok gesê. Daar kort nog baie werk aan die ontwikkeling van die kusgebiede-korridor.

Ander uitdagings sluit in die bestuur van gebiede wat reeds heeltemal versteur is ten einde verdere agteruitgang te voorkom.

Probleme sluit in paaie, wildheinings, uitheemse plantegroei, en selfs vierkantemeter-grootte sement ankerplatvorms vir installasies in sensitiewe fynbos. Strandmere waarin besoedeling beland kort ook aandag.

Vir meer inligting oor die GCBR, kontak Anne-Lise Schutte Vlok by 044 203 6300, of avlok@capenature.co.za.

ARTIKEL EN FOTO: TISHA STEYN

Oudtshoorn Courant – 30 Augustus 2015

 
comments powered by Disqus

follow us

Information

GCBR Newsletter


Twitter