HESSEQUA NUUS – Afgevaardigdes van verskeie lande in die wêreld het onlangs in die streek vergader.
Journalist Tisha Steyn | Friday, 04 October 2019, 08:02
View Article | Lees Artikel
Dié geleentheid was om te besin oor die beste manier om ‘n gesonde bewaringsbalans aan sensitiewe kuslyne te handhaaf.
Die negende konferensie van die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation (UNESCO) se wêreldwye netwerk van eiland- en kusbiosfeerreservate (WNICBR) is van 15 tot 20 September by Gourikwa-natuurreservaat gehou. Die Gourits-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) was die gasheer vir 33 afgevaardigdes van 11 lande wat dié netwerk se eerste vergadering op die vasteland bygewoon het.
Die liggaam het in 2009 tot stand gekom en sluit 80 reservate in wat 10% van alle biosfeerreservate wêreldwyd uitmaak. Die doel daarvan is die volhoubare ontwikkeling van hierdie gebiede en aanpassings om die invloed van klimaatsverandering te verminder.
Afgevaardigdes het hul ervarings, ondervinding en tegniese kundigheid gedeel en van die geleentheid gebruik gemaak om die netwerk van samewerking te versterk.
Soggens het hulle na gassprekers, wat plaaslike kundiges soos dr. Enrico Gennari van Oceans Research, dr. Peter Nilssen, argeoloog en spesialis erfenispraktisyn, asook dr. Jan de Vynck van Nelson Mandela Universiteit ingesluit het.
Die aanbiedings het ‘n wye verskeidenheid onderwerpe aangeraak, soos onder meer die waarde van biosfeerreservate as koolstofstoorplek, die uitdagings en voordele van toerisme in veral ekologies-sensitiewe biosfeerreservate, die uitdaging van afvalplastiek en die waarde van omgewingsopvoeding en gemeenskapsbetrokkenheid.
In die middae is uitstappies na verskeie interessante plekke langs die Hessequa-kuslyn onderneem. Hulle het onder meer besoek gebring aan die Goukou Resilient River Project, Garden Route Game Reserve, historiese visvywers by Stilbaai en die Inverroche-jenewerdistilleerdery.
“Die vergadering het ons opnuut laat besef dat ons nie die natuur op ons eie hoef te bewaar nie, maar dat ons deel vorm van ‘n wêreldwye netwerk saam met wie ons die uitdagings kan aanpak,” het dr. Steve du Toit, hoof uitvoerende beampte van die GCBR gesê.
Hy het die Hessequa-munisipaliteit vir hul ondersteuning bedank.