Montagu Malva Gedoop

Nov 12, 2017 | General News

‘n Klein wildemalvatjie is in 2006 net buitekant Montagu deur Jan en AnneLise Vlok ontdek.  Die diep sanderige habitat waarin die plantjie voorkom het ‘n paar maande vantevore gebrand en dit was hier werklik ‘n geval van ‘om op die regte tyd op die regte plek te wees’.

Die plantjies is nie maklik om raak te sien nie – ‘n mens moet op jou kniee afsak om hulle ten volle te kan waardeer.  Individuele plante staan omtrent 10cm hoog wanneer hulle blom, en het ‘n knolletjie onder die grond vanwaar hulle herspruit na brand.  Die blare bestaan uit drie lobbe (amper soos die van ‘n tuinsuuring – Oxalis spesies), is sowat 15mm lank en 10mm breed, maar rooierig en droog wanneer die plante in blom is.

Die blomme is uitsonderlik – wit, met twee diep wyn-rooi kolle en fyn rooi-pers are in die blom se keel.  Met hulle tuiskoms is Jan en AnneLise se vermoede bevestig dat die spesie ongewoon is – hulle kon geen gepubliseerde naam vir die spesie vind nie.  Die eksemplaar is aan Dr Bettie Marais, spesialis op Horea-groep binne die genus Pelargonium, gestuur.  Sy het onmiddelik terug laat weet dat dit ‘n nuwe spesie is.  Lees meer oor die benaming van die spesie in die artikel wat deur Engela Duvenhage vir die Burger geskryf is.

Recent Posts

Post Categories

Archives