Inheems 2025 Tiener Kunskompetisie

Apr 16, 2025 | Competitions, Environmental Education, Inspiration

Kom ons vier ’n werklik  spesiale plek

Het jy geweet dat as jy enige plek in die Hessequa-munisipale distrik woon of skoolgaan, jy binne ’n UNESCO Biosfeerreservaat is? Meer spesifiek is jy deel van die Gouritz Cluster Biosfeerreservaat (GCBR) – ’n plek van wêreldwye ekologiese belang, ryk aan biodiversiteit en kulturele erfenis.

Om ons streek se unieke natuurlike- en inheemse erfenis te eer en te vier, nooi ons alle tieners tussen 13 en 19 jaar in Hessequa uit om hul talent en kreatiwiteit te bewys in die GCBR se Inheems 2025 Tiener Kunskompetisie!

Hoe om in te skryf

Daar is R29,000 se kontantpryse op die spel, en jou kunswerk kan selfs op GCBR se eksklusiewe kledingsreeks verskyn! Dit is jou kans om iets te skep wat die inheemse rykdom van ons streek weerspieël, terwyl jy pret het, leer en jouself uitdruk.

Volg hierdie stappe om in te skryf:

  1. Skep ’n skildery of tekening (enige medium is welkom) wat geïnspireer is deur ons inheemse skatte en wat verband hou met een of meer van hierdie jaar se kategorieë.
  2. Kry ’n inskrywingsvorm by jou plaaslike Hessequa-biblioteek of laai dit hier af: [Inskrywingsvorm]
  3. Handig jou kunswerk en inskrywingsvorm teen 11 Augustus 2025 by jou plaaslike Hessequa-biblioteek in. Jy mag tot drie inskrywings indien.

Wat is die kategorieë?

Jou kunswerk sal deur ’n onafhanklike paneel van kundiges beoordeel word, gebaseer op die volgende temas:

Ons Flora

Vier die inheemse plante van ons streek – van majestueuse bome tot kleurvolle veldblomme, geharde vetplante, grasse en mosse. Dink aan fynbos, woude en veldplante wat lewe en kleur bring aan ons landskap.

Ons Fauna

Beeld die wonderlike diere uit wat in ons streek woon – insluitend soogdiere, voëls, reptiele, insekte en seelewe. Groot of klein, hierdie wesens  deel ons wêreld en speel ’n belangrike rol in ons ekostelsels.

Ons Landskappe & Seeskappe

Vang die natuurlike skoonheid van ons omgewing vas – van die Langeberge, rollende heuwels vol fynbos en die Goukourivier tot brekende branders, ongerepte strande en getypoele. Hier’s jou kans om jou waardering vir die natuur om jou te wys.

Ons Mense

Ons streek is die tuiste van verskeie kulture en diep geskiedenisse – van die wysheid van die Khoi- en San tot die tradisies van boere- en vissersgemeenskappe. Jy word genooi om ons inheemse mense van die verlede en hede te eer en te vier.

Ons Toekoms

Droom oor wat voorlê. Jy kan ’n hoopvolle toekoms uitbeeld waar mens en natuur saam floreer – skoon riviere, beskermde diere en sterk, volhoubare gemeenskappe. Of dalk wys jy wat kan gebeur as ons die gevolge van klimaatsverandering, besoedeling en verlies aan biodiversiteit ignoreer.

Wat kan gewen word?

Elke kategorie bied die volgende kontantpryse aan:

1ste Plek: R1,000

2de Plek: R700

3de Plek: R500

Verder:

10 Meriete-Toekennings van R300 elk sal toegeken word.

Drie uitstaande tienerkunstenaars sal gekies word om hul kunswerk op GCBR-klerasie te vertoon – en elkeen sal ’n kontantprys van R5,000 ontvang!

Inheems Kunsfees

Alle inskrywings wat die gees van Inheems weerspieël en ons streek se natuurlike- en kulturele erfenis vier, sal uitgestal word tydens ’n tweedaagse Kunsuitstalling by die Riversdal Burgersentrum, op 5 en 6 September 2025.

Laat jou inspireer

Kyk gerus na verlede jaar se inskrywings en sien die ongelooflike kreatiwiteit uit ons streek:

Ontsluit jou kreatiwiteit, vier jou herkoms en wees deel van iets buitengewoon.

Laat jou kuns die storie van ons tuiste én ons toekoms vertel.

Recent Posts

Post Categories

Archives