Kom ons vier die natuur met kreatiwiteit!
Die Gouritz Groepsbiosfeerreservaat (Gouritz Biosfeer) word deur UNESCO erken as ’n gebied van wêreldwye ekologiese belangrikheid, met ’n ryk biodiversiteit en kulturele erfenis. Die hele Hessequa vorm deel van hierdie spesiale streek.
Ons nooi alle tieners tussen 13 en 19 jaar oud wat in Hessequa woon of skoolgaan, om hul talent én Hessequa se natuurskoon ten toon te stel in die Inheems 2026 Tiener-Kunskompetisie!
Hoe om in te skryf
Jy staan ‘n kans om jou deel van R20 000 se kontantpryse te wen, en jou kunswerk kan selfs op GCBR- en Hessequa klere-en items verskyn!
Dit is jou kans om die asemrowende inheemse en endemiese plante, diere, insekte, swamme, riviere, oseane en versteekte lewensvorme wat ons streek so uniek maak, te verken. Ontdek deur kuns die klein, vreemde, skaars en verweefde spesies wat Hessequa se ongelooflike web van lewe vorm, en help ander om die wonder van die natuur deur jou oë te beleef.
Hoe om in te skryf:
Skep ’n skildery of tekening (enige medium is welkom) geïnspireer deur ons inheemse wonders en gekoppel aan een of meer van hierdie jaar se kategorieë.
Kry ’n inskrywingsvorm by jou plaaslike Hessequa biblioteek of laai dit hier af.
Dien jou kunswerk en inskrywingsvorm teen 10 Augustus 2026 by jou plaaslike Hessequa biblioteek in. Jy mag tot drie inskrywings indien.
Wat is die kategorieë?
Jou kunswerk sal deur ’n onafhanklike paneel van kundiges beoordeel word volgens die volgende temas:









Klein, Vreemd & Skouspelagtig
Bekyk van naderby. Fokus op die klein, die vreemde en die dinge wat dikwels misgekyk word; soos insekte, reptiele, swamme, mosse of enigiets wat reg voor ons oë versteek is. Van die mees fassinerende lewensvorme is dikwels dié wat ons gewoonlik miskyk.






Skaars & Merkwaardig
Sommige spesies het werklik ons aandag nodig. Hierdie tema fokus op plante en diere wat skaars, bedreig of uniek aan ons streek is. Gebruik jou kuns om hulle te illustreer, wat hulle besonders maak en waarom hulle belangrik is.






Waterwêrelde
Water is lewe. Verken die riviere, vleilande, riviermondings, rotspoele en oseane van ons streek. Van varswater- en mariene spesies tot die ekosisteme wat hulle ondersteun — daar’s ’n hele wêreld onder die oppervlak.







Wilde Verhoudings
Alles is verbind. Die natuur gaan nie net oor individuele spesies nie; dit gaan oor verhoudings. Wys hoe plante, diere, water en mense met mekaar verbind is. Dink aan bestuiwing, voedselwebbe of onverwagse samewerkings in die natuur.
Wat kan gewen word?
Elke kategorie bied die volgende kontantpryse:
1ste Plek: R1 000
2de Plek: R500
3de Plek: R300
10 Meriete toekennings: R200 elk
5 Opkomende Ster toekennings: R100 elk
2 GCBR-ontwerp toekennings: R3 500 elk
6 Hessequa-ontwerp toekennings: R550 elk
Inheemse Kunstefees
Alle inskrywings wat die gees van Inheems weerspieël en ons streek se natuurlike- en kulturele erfenis vier, sal uitgestal word tydens ’n tweedaagse Kunsuitstalling by die Riversdal Burgersentrum, op 27 and 28 Augustus 2026.
Vang inspirasie
Kyk na verlede jaar se wonderlike inskrywings en sien die kreatiwiteit wat regoor ons streek na vore gekom het:
Laat jou kreatiwiteit los, vier Hessequa se biodiversiteit en word deel van iets buitengewoons.


