Karoo verkoop SA se eerste koolstofkrediete

Apr 27, 2016 | Project News

SUID-KAAP NUUS – Suid-Afrika se eerste koolstofkrediete is aan die Cambridge Universiteit in Engeland verkoop.

“Die Cambridge Universiteit gaan vir die volgende drie jaar die ekwivalent van koolstof wat deur sowat 12 ha gerestoureerde spekboomveld uit die atmosfeer opgeneem is by ons koop om te kompenseer vir die koolstofvoetspoor van afgevaardigdes na hul jaarlikse internasionale konferensie,” sê Wendy Crane van die Gouritz-gebiedsbiosfeerreservaat (GCBR).

Die koolstofkrediete word verdien in ‘n projek Jobs for Carbon, ‘n inistiatief van die Gouritzgebiedsbiosfeerreservaat. Sestig voorheen werklose mense van Van Wyksdorp in die Klein-Karoo is opgelei om spekbome te oes en te plant om hulle in staat te stel om altesaam 300 ha spekboomveld te rehabiliteer.

Die spekboom het ‘n besondere vermoë om koolstofdioksied uit die atmosfeer te haal en as koolstof in die grond te bêre.

“Die inkomste wat met koolstofkrediete verdien word, word gebruik om nog veld in die Klein-Karoo te rehabiliteer,” sê Crane. Die projek word gefinansier deur die Europese Unie en die departement van omgewingsake en bestuur deur dr. Steve du Toit van Wessa. Die Rhodes Restoration Research Programme bereken die koolstofsekwestrasie.

Die Gouritz-gebiedsbiosfeer beslaan ‘n groot gebied waarvan die opvanggebied van die Gouritzrivier die kern vorm.

Die gebied is uniek omdat dit die enigste plek ter wêreld is waar drie internasionaal-erkende biodiversiteit fokuspunte voorkom, naamlik Fynbos met proteas, ericas en restios (dekriet), Sukkulente Karoo met botterbome, plakkies en vygies, en Subtropiese Ruigteveld met spekboom, ghwarrie en pruimboom.

Die unieke gebied met sy besondere groot verskeidenheid van sowat 3 000 plantspesies, waarvan ‘n menigte endemies is en net hier voorkom, het daartoe bygedra dat die GCBR onlangs amptelik deur Unesco erkenning gekry het as ‘n biosfeerreservaat, en nou as een van vier Unesco-biosfeerreservate in die Wes-Kaap gereken word.

Die doel van die GCBR is om plaaslike inwoners in staat te stel om hul omgewing op ‘n meer volhoubare manier te benut.

Gemeenskapsontwikkeling is ook van groot belang en daar word gepoog om gemeenskappe te betrek by ontwikkeling rondom toerismeroetes en bewaringsaksie soos die Jobs for Carbon-projek.

ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT – KORRESPONDENT.

‘Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus’

OUDTSHOORN COURANT – 25 Julie 2015

Recent Posts

Post Categories

Archives