#spekkies: spekboomplantjies binnekort beskikbaar

Jul 20, 2016 | Project News

#spekkies is ’n onderneming wat spekboomsteggies in spesiale planthouers aan die publiek beskikbaar gaan stel. Die onderneming is ’n uitvloeisel van die Jobs4Carbon-projek wat begin 2015 met onder meer Europese Unie-befondsing in die Vanwyksdorpgebied van stapel gestuur is.

Jobs4Carbon en #spekkies is inisieer deur die Gourits Groeps-biosfeerreservaat (GCBR=Gourits Cluster Biosphere Reserve). Jobs4Carbon, bestaande uit ’n span van 60 gemeenskapslede van Vanwyksdorp, is besig om 300 ha spekboomveld te restoureer deur spekboomsteggies aan te plant.

Die doel van die Jobs4Carbon-projek is om spekboomveld en gepaardgaande plantegroei, wat bykans vernietig is deur onoordeelkundige beweiding in die Klein-Karoo, te restoureer. Wanneer die veld herstel het, sal natuurlike wildspesies ook na die gebiede terugkeer.  Die agt grondeienaars wat aan die projek deelneem het hul grond vir tien jaar tot die GCBR se beskikking gestel.

“Met #spekkies word die GCBR se Jobs4Carbon-restourasieproses voortgesit en die gemeenskap word  terselfdertyd bevoordeel,” sê Wendy Crane van die GCBR. Volgens Crane is #spekkies ’n besigheid wat op eie stoom kan voortbestaan wanneer dit eers op dreef is.

Die spekboomsteggies word volhoubaar geoes en in bio-afbreekbare houers geplant en aan die publiek beskikbaar gestel word. Die houers, wat deur John Sachs van Barrydale se Red Seal Design Studio ontwerp is, kan saam met die spekboom geplant word sodat die wortelstelsel nie tydens die plantproses versteur word nie. Die houer bestaan uit materiaal wat vermolm en waterhoudend is.

‘n Kwekery word in Vanwyksdorp aangelê; die kwekery en  vervaardiging van die potte kan  voltydse werkgeleenthede skep.

Spekboom het die vermoë om koolstofdiokied uit die atmosfeer te haal en in die vorm van koolstof in die grond onder die boom te stoor tot voordeel van die spekboom en die plante wat rondom die spekboom groei. “Spekboom is identifiseer as ’n buitengewoon goeie koolstof-sekwestreerder (as ’n semi-woestynplant) en word allerweë beskou as ’n plant wat as teenvoeter vir klimaatsverandering dien,” sê Crane. “#spekkies wil die spekboom se vermoë om koolstof te stoor ook in tuine in Suid-Afrika bekendstel as deel van die stryd teen klimaatsverandering.”

Die steggies sal teen later vandeesmaand beskikbaar wees. Kontak Luami Zondagh by 083 998 1230 of luamizondagh@gmail.com, of besoek die Facebook-blad www.facebook.com/hashtagspekkies vir meer besonderhede.

Tisha Steyn

Oudtshoorn

Recent Posts

Post Categories

Archives